Leef as kinders van die lig! Die vrug van die lig bestaan immers uit alle goedheid en geregtigheid en waarheid (Efesiërs 5:8-9).
‘n Derde vrug van ‘n lewe as kinders van die lig, is om dienaars van die waarheid te wees.
Op ‘n eerste vlak beteken dit gewoon, soos Paulus dit in Efesiers 4:25 stel, dat ons leuens sal vermy en leer om met ons naaste die waarheid te praat.
Tog weet ons dat die sogenaamde waarheid vandag ‘n uiters glibberige en tweeslagtige woord geword het. In sy jongste boek “The Golden House” wys die skrywer Salman Rushdie op die ironiese situasie van hoe die vooroordele en opstand van gewone mense teen die sogenaamde elite vandag dit wat eintlik waar en reg is, kan ignoreer en selfs verdraai. En hoe dit ‘n samelewing soos Amerika pynlik verdeel het.
‘n Teken hiervan, so skryf hy, is: “Now the only person you think is lying to you is the expert who actually knows something. But he’s the one not to believe because he is the elite and the elites are against the people…”
Omrede die waarheid so uitgelewer geraak het aan die willekeur en voorkeur van die massas wat deesdae self besluit wie of wat hulle wil glo, het dit miskien nodig geword om weer te luister na Paulus se siening van wat waar.
Dit is naamlik meer ‘n styl van leef – een wat volkome eg, deursigtig en veral moreel is. Een waarin, soos Jesus ons beveel het, “ons ‘ja’ werklik ‘ja’ sal wees en ons ‘nee’ werklik’ nee’ (Matt 5:37). En waarin ons woorde en dade voortdurend tot stigting en opbou van die ander sal wees (Efes 4:29).
Wie só leef, dien Christus se lig en waarheid.
O Here, help ons om U as ons waarheid en lig te respekteer en daarom vandag weer met onverbloemde eerlikheid te gaan leef. Amen
Carel Anthonissen