Boodskap vir Vandag

Search

Op goeie voet met God

Loof die Here, roep sy Naam uit; maak onder die volke sy dade bekend. Sing vir Hom, speel vir Hom; praat met oorgawe van al sy wonderwerke (Psalm 105:1-2).

Soos vreemde sterre in die nag, verskyn daar soms mense op die horison van ons geskiedenis wat ʼn vars en nuwe blik op die lewe het.

Mense wat dinge aanpak en doen wat so oorspronklik en verbeeldingryk is dat dit ander telkens in blywende verwondering laat.

Een so ʼn mens was Antoni Gaudi, ʼn Katalaanse argitek wat vroeg reeds bekend geword het vir sy oorspronklike en kleurryke ontwerpe van ʼn magdom huise, geboue, parke en katedrale. Wie vandag Barcelona besoek, kom gou op sy spoor en staan telkens verstom voor sy werke. Die bekendste hiervan is die Sagrada Familia (Die kerk van die heilige familie), ʼn indrukwekkende katedraal wat eers in 2026 voltooi sal word – presies honderd jaar ná Gaudi se dood.

Hier indrukwekkende katedraal is nie net vandag die kroon op Gaudi se werk nie, maar verskaf ook die leidraad tot sy ongekende drif en verbeelding. Dit is dat hy as Katolieke gelowige uiteindelik alles tot eer van sy God wou doen. In die woorde van ʼn bekende geleerde: “What Gaudi did was to render homage to the One, the Supreme Being.” En selfs wanneer hy gefaal het, het mense wat hom geken het, gewéét: “God was the only master with whom Gaudi finished on good terms.”

Die onmiskenbare teken van sy diep afhanklikheid van God is die beskeie altaar en ruimte vir gebed wat ʼn mens telkens in die kern of hart van sy ontwerpe en geboue aantref. Soos die psalmdigter, juig en jubel Gaudi se werke voortdurend en met oorgawe oor God se wonderwerke in sy lewe.

Wat my opnuut laat wonder: Waarvan getuig ons lewe en werke vandag?

Here, laat ons werke en lewe vandag, net soos Gaudi s’n, iets weerspieël van u wonderwerke in ons lewe. Amen.

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.