“Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê. Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel” (Johannes 15:13-14).
Dit is bekend dat Paulus, wanneer hy oor Jesus verlossingwerk skryf, gewoonlik regsterme gebruik.
Hy getuig hoe Jesus deur sy offerdood aan die kruis ons sondeskuld gedra en uitgewis het. En hoe ons daardeur die oordeel en toorn van God, die groot Regter, vrygespring het.
Wanneer Jesus self oor sy verlossingswerk praat, is dit egter dikwels meer in terme van wat vriende vir mekaar doen. Hy sê dat Hy as ons lojale vriend nie net gekom het om ons skuld te vergewe nie, maar veral ook ons skaamte te besweer. Om só ons menswaardigheid te herstel.
Meermale in die Evangelies sien ons dit gebeur: Jesus, die getroue Heiland en vriend, herstel vir Petrus in sy amp ná sy skandelike verloëning. Jesus roep vir Saggeus die tollenaar om sy vriend te word en Hom in sy huis te ontvang. Al dié optredes – en daar is nog baie meer – is veranker in Jesus se woorde aan sy dissipels: “Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie … Nee, Ek noem julle vriende.”
Geen wonder die kerk kon deur die eeue heen met blyskap sing nie: “Wat ʼn vriend het ons in Jesus, Hy wat in ons plek wil staan.”
Jy kan dit gerus vandag glo: Jesus is jou Verlosser, jou Vriend.
Jesus, goeie Vriend en Verlosser, ek draai vandag weer na U toe om naby aan U te wees. Amen.
Carel Anthonissen