Aan elkeen afsonderlik word ʼn werking van die Gees gegee tot voordeel van almal (1 Korintiërs 12:7).
Ek het ʼn vriend wat openlik erken dat hy maklik angstig raak, veral wanneer dinge nie uitwerk soos hy dit beplan het nie.
Soos toe hy eenkeer op pad lughawe toe vertraag is en byna sy vliegtuig verpas het. Tot vandag toe onthou hy die angssweet van die oomblik.
My vriend se angstigheid – dit erken hy óók – maak dat hy in sekere situasies dikwels die ergste verwag, selfs wanneer daar nog geen teken van moeilikheid is nie. Só skep angs sy eie spookbeelde en illusies.
Gelukkig is my vriend getroud met iemand wat presies die teenoorgestelde is – iemand wat te midde van die grootste krisisse meestal kalm bly, die beskikbare opsies rustig bekyk en oorweeg. En dan die nodige keuses maak wat die krisis kan afweer.
Miskien is dit deel van die positiewe dinamika van die gemeenskap waaroor Paulus in 1 Korintiërs 12 skryf. Ons almal het nie net verskillende gawes ontvang nie; die Gees werk ook verskillend deur ons, afhangende van ons persoonlikheid, temperament en gesindheid teenoor die lewe.
Sodat dié wat angstiger is die oorgerustes op hulle tone kan hou. En dié wat kalmer is die oorangstiges kan help om met meer vertroue en rustiger te leef.
Here, dankie vandag vir dié mense wat U oor ons pad stuur om ons in tye van angs tot kalmte en vertroue te lei. Amen.
Carel Anthonissen