Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

ʼn Gesonde middeweg

Die wysheid kom eerste. Sorg dat jy wysheid bekom, gee alles wat jy het om insig te kry! (Spreuke 4:7).

Een van die belangrike balanse wat ons in ons lewe moet vind en handhaaf, is dié tussen ʼn gesonde spaarsin en verstandige besteding.

Wie na een van hierdie kante oorhel of oorboord gaan, val maklik vas in óf ʼn inhiberende en selfs verlammende vorm van inhaligheid óf ʼn leefstyl van onbeheersde en oordadige verkwisting. Albei hierdie vorme van lewe kan, ironies genoeg, ons lewe op die lang duur oneindig beperk en verarm.

Hoe belangrik dit is om ʼn soort middeweg tussen dié twee uiterstes te vind het ek onlangs weer besef toe ʼn vriend ʼn merkwaardige storie oor sy 93-jarige tante vertel het. Sy het haar lewe lank in die poskantoor gewerk en elke maand nougeset ʼn bietjie geld gespaar. Kleingeld is selfs in ʼn verskeidenheid bottels opgedeel en versamel.

Teen die tyd dat sy haar middeljare bereik het, was sy reeds so vas aan dié roetine dat haar hele lewe ingeperk was tot haar werk en haar huis. Van wat in die bank met haar spaargeld gebeur het, het sy mettertyd heeltemal tred verloor. Totdat haar enigste oorblywende nefie en familielid aan die einde van haar lewe die bestuur van haar finansies noodgedwonge moes oorneem.

Tot sy stomme verbasing het hy ontdek dat haar spaargeld, wat aanvanklik klein maandelikse bedrae behels het, intussen gegroei het tot oor die R3 miljoen rand en dat die kleingeld in die bottels reeds meer as R3 000 altesaam was.

Dit is ʼn merkwaardige maar ook hartseerverhaal. Van iemand wat in haar tyd op aarde probeer het om nougeset, sober en verantwoordelik te leef, maar in die proses haarself die avontuur van ʼn wyer en selfs meer waagmoedige lewe ontneem het.

Die vermoë om ʼn gesonde middeweg tussen dié twee lewensbenaderings te vind bly belangrik. Dit is deel van die Bybelse wysheid waarna ons moet bly soek.

Here, leer ons vandag die wysheid wat ons kan help om ons finansies en voorregte op ʼn gesonde en verantwoordelike manier te hanteer. Amen.

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.