Kyk, Ek stel jou vandag aan oor nasies en oor koninkryke om af te breek en uit te roei, om te vernietig en plat te slaan, te bou en te vestig (Jeremia 1:10).
Onlangs vertel iemand oor ʼn radioprogram van ʼn belangrike projek. Dit staan bekend as “dekonstruksie vir rekonstruksie” en is daarop gemik om mense se woonomstandighede in die townships te verbeter.
Die resep is eenvoudig: Die ou en vervalle shack word afgebreek ten einde ʼn nuwe en veiliger woonplek op te rig. Die verbasende, volgens die verteller, is egter dat die inwoners aanvanklik skrik vir hierdie proses en openlik traag is om hulle ou woonplek te laat gaan. Allereers omdat die afbreekproses ʼn soort pynlike ontbloting meebring.
Hulle sien skielik die tekortkomings en swakhede van hulle ou, wankelrige konstruksie raak, selfs die gevare daarvan. En hulle voel skaam en verleë daaroor.
Erger nog, die aanskoue van die afgetakelde konstruksie roep die gevoel, selfs skok, van permanente verlies op. Dus, liewer vasklou aan die oue, want die nuwe is nog onsigbaar. Wie weet of daar ooit iets beter sal kom.
Die ervaring waarvan hier vertel word, geld natuurlik ook vir ons gewone lewe. Daar waar ons geroep word om ter wille van ʼn gesonder en sinvoller lewe sekere dinge prys te gee, sekere swak gewoontes te laat staan of af te takel. Die uitdaging is om, hoe pynlik hierdie proses ook al kan wees, te vertrou dat die afbreekproses ʼn goeie gevolg of uitkoms sal hê. Dat dit inderdaad die voorloper tot iets nuuts sal wees.
Egte vernuwing, ook in jou lewe, werk altyd só. Ons moet die proses en die Here daaragter leer vertrou. Dit was ook Jeremia se opdrag.
Here, vergewe ons dat ons so traag is om ons lewe in u hande te laat. Kom, Gees, breek af wat skadelik is en gee ons nuwe lewe. Amen.
Carel Anthonissen