Boodskap vir Vandag

Search

ʼn Fondament wat saak maak

As ʼn mens lank lewe, moet jy oor alles dankbaar wees (Prediker 11:8).

Een van die ontstellende, selfs skrikwekkende, aspekte van ouer word, is dat baie van die inhibisies waarmee jy geleef het in dié jare kan wegval en verdwyn.

Sodat jou ware self, die mens wat jy ten diepste is, al hoe sterker na vore tree.

Hierdie kern van jou menswees wat so ontsluit word, kan verrassend mooi en aantreklik wees. Maar dit kan ook donkerder en meer negatief wees as wat selfs jou eie vriende vermoed het.

In dié verband vertel ʼn vriendin onlangs ʼn baie mooi storie. Van hoe haar 90-jarige ma onlangs geval het. Dié ongeluk het haar totaal gedisoriënteerd en deurmekaar gelaat. Sodat sy self nie aldag geweet het wie sy is of waar sy was nie.

Tog, ten spyte van dié terugslag, het haar diepgewortelde gesindheid van dankbaarheid, vriendelikheid en hulpvaardigheid – iets wat sy haar lewe lank gehad het – nie verdwyn nie. Selfs al was sy party dae verward, het sy steeds met kinderlike verwondering en ʼn glimlag teenoor ander mense bly leef.

Wat ons herinner wat ʼn groot bate dit is om reeds van jongs af ʼn positiewe ingesteldheid teenoor die lewe en ander mense te kweek. Om reeds vroeg in jou lewe ʼn stewige fondament van goedgesindheid, vriendelikheid en veral grootmoedigheid teenoor alle mense te lê.

Wie dit aanpak, sal ryklik deur die ouderdom beloon word.

O Here, gee ons daardie dankbaarheid en verwondering oor die lewe wat maak dat ons lewe ook vir ander ʼn vreugde en ʼn aansporing is. Amen.

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.