Maar U verwag opregtheid diep in ʼn mens se hart … Die offer wat U wil hê, o God, is verootmoediging. U sal ʼn hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God (Psalm 51:8, 19).
Die debat rondom die aanstelling van ʼn hoofregter in Amerika het nie alleen hierdie groot nasie pynlik verdeel nie. Dit het ook die belang van daardie waardes wat onontbeerlik is vir die vestiging van ‘n eg menslike en regverdige samelewing onder die soeklig geplaas.
Die eerste van hierdie waardes is respek vir die waarheid. In die getuienis van Christine Blasey Ford, wat beweer het die regter het haar in haar jeugjare seksueel geteister, en sy heftige ontkenning daarvan, was dít uiteindelik die groot vraag: Wie is reg? Wie praat die waarheid? Wie moet ons glo?
Selfs ná ʼn FBI-ondersoek was daar in die Amerikaners se gemoed steeds geen duidelikheid hieroor nie. Wat wel duidelik geword het, is hoe persoonlike voorkeure, diepgewortelde vooroordele en veral politieke lojaliteite mense se siening van wat waar en vals is, kan bepaal. Soos een joernalis dit gestel het: “The final vote was largely along party lines.” Geen wonder dat die saak baie mense met ʼn gevoel van onvergenoegdheid en selfs ontnugtering gelaat het nie.
Iewers het Jesus se resep in dié verband – dat ons ja eenvoudig ja en ons nee eenvoudig nee sal wees – verlore geraak. So ook die besef dat die waarheid wat regtig vrymaak meestal met opregtheid, nederigheid en veral berou en skuldbelydenis voor God en mense gepaardgaan.
Het Dawid, ná sy omstrede verhouding met Batseba, ons dit nie al lankal geleer nie?
Gees van God, lei my vandag opnuut in u waarheid, u waarheid wat mense vrymaak en eerlik laat leef. Amen.
Carel Anthonissen