Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Om waaragtig te leef

Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie (Jakobus 1:22).

Om die waarheid te praat beteken nie altyd dat jou woorde, storie of getuienis volledig met die sogenaamde feite klop nie.

Of dan, dat dit deur klinkklare bewyse ondersteun word nie.

Hoe belangrik feite en bewyse ook al is, leer die praktyk ons dat feite of bewyse dikwels vaag, onaf en fragmentaries kan wees. Dít is so omdat mense, om watter rede ook al, nie altyd alles van ʼn gebeurtenis of voorval haarfyn kan onthou nie.

In sulke gevalle word ʼn ander aspek van die waarheid belangrik. Dit is dat die betrokke persone se getuienis of storie eg en geloofwaardig sal wees. Mense wat jou aanhoor, moet die gevoel kry dat jou optrede en die manier waarop jy jou storie inklee of vertel eerlik, deursigtig en betroubaar is. Ook dat dit deur ʼn geskiedenis van opregtheid gerugsteun word.

Waarheid wat aan jou gedrag en geskiedenis gekoppel is, kan ook beskryf word in terme van ʼn waaragtige lewe – ʼn lewe waarin jou woorde en dade ooreenstem. ʼn Lewe waarin daar geen botsing meer bestaan tussen jou sogenaamde aand- en môrepraatjies nie. Kortom, ʼn lewe waarin jy dít wat jy bely of glo ook daadwerklik uitleef. Só uitleef dat mense dit as waarheid herken.

Diep onder die indruk van die belang van so ʼn waaragtige lewe, moedig die apostel Jakobus ons vandag opnuut aan: “Omdat dit sy wil was, het God ons deur die woord van die waarheid tot die lewe gebring” (Jak 1:18). “Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie” (1:22). “Wat help dit as iemand beweer dat hy glo en sy dade bevestig dit nie?” (2:14).

O Here, U ken die tweeslagtigheid van ons lewe. Hoe ons woorde dikwels nie rym met ons dade nie. Vergewe ons en leer ons om meer waaragtig te lewe. Amen.

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.