Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Harde woorde

“Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, van my afvallig laat word, vir hom is dit beter as ʼn groot meulsteen aan sy nek vasgemaak en hy in die see gegooi word” (Markus 9:43).

Van die hardste uitsprake wat Jesus tydens sy aardse lewe gemaak het, vind ons in Markus 9:42-50.

In dié gedeelte hoor ons van ledemate wat afgekap moet word, asook van mense wat met meulstene om hulle nekke in die see gegooi sal word.

Hierdie uitsprake van Jesus was destyds deel van ʼn volgehoue poging om sy dissipels te leer om nederiger te leef, om nie neer te sien op ander mense en hulle só van God se koninkryk uit te sluit nie. Of anders gestel: om nie God se pad na mense te blokkeer nie.

Twee vroeë insidente wys dat die dissipels hulle op hierdie glibberige pad bevind het. Eerstens het hulle langs die pad geloop en stry oor wie van hulle die belangrikste was. Waarop Jesus hulle, aan die hand van ʼn kind, die weg na groter nederigheid gewys het (Markus 9:33-37).

Kort hierna striem en verwilder hulle met meerderwaardige trots sekere mense wat Jesus nie op dieselfde manier as hulle gevolg of gedien het nie. Waarop Jesus hulle vermaan dat mense Hom op ander maniere as hulle kan dien, en dan steeds tot sy dissipelkring behoort (9:38-41). Ook dat elkeen wat sulke mense – Jesus noem hulle sy geliefde kinders, sy kleintjies – verhinder om in Jesus te glo, gevaar loop om self onder God se oordeel te beland (9:42).

Geld hierdie woorde of waarskuwing vandag nog vir ons? Beslis! Luister net wat skryf ʼn bekende teoloog hieroor: “It is entirely possible for Jesus’ beloved ‘little ones’ to stumble because of our carelessness, our apathy, our unkindness, our dogmatism, our prejudices, our unforgiveness, our laziness and our fear.”

Hoor jy dit? Al hierdie dinge wat ons kan verhinder om verdraagsamer en meer inklusief te leef? Van dié dinge moet ons, volgens Jesus, vandag summier ontslae raak.

Here, vergewe ons as ons vandag ʼn struikelblok was vir mense om in U te glo. Help ons om meer van u liefde en verdraagsaamheid uit te straal. Amen.

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.