Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

God weet ons is stof

Hy weet waarvan ons gemaak is. Hy hou dit in gedagte dat ons stof is (Psalm 103:14).

Hoe mooi, volgens Genesis 2:18-25, begin die lewe van man en vrou as skepsels van God saam! Ons lees daar dat hulle naak was, maar nie skaam was vir mekaar nie (Genesis 2:25).

Ja, só het hulle in daardie eerste dae voor God se aangesig geleef: in blywende en kinderlike verwondering óór mekaar. Oop en weerloos téénoor mekaar. Bereid om die ander hulle lewe lank met liefde by te staan, te versorg en te beskerm. En só God se droom vir hulle waar te maak.

Ongelukkig eindig die storie nie daar nie. Wie verder lees, hoor hoe man en vrou, ondanks die gawe van God se liefde en goedheid, op ʼn onverklaarbare manier God se droom tot niet laat gaan het. Sodat hulle uiteindelik as eensame swerwers hulleself met vyeblare voor God en teenoor mekaar moes verskans (3:7-8).

ʼn Vreemde verhaal, en tog ook ʼn prentjie van wat elke dag in verhoudings gebeur. Aangrypend verwoord iemand hierdie vreemde paradoks wat sovele mense se lewe daagliks in trane en bitterheid laat:

“Adam’s cry at seeing Eve was a cry of pure joy, a cry of ecstatic recognition. But sometimes joy dies. Sometimes the familiar becomes unrecognizable. Sometimes intimacy ends in betrayal.”

Wat gemaak as dit gebeur? As die droom vergaan en jy op ʼn dag die slagoffer van so ʼn vorm van verraad en vervreemding word?

Goedkoop raad is hier nie gepas nie. Wat ons as gelowiges wel kan weet, is dat daar steeds genade en vergifnis is. Altyd, altyd. Want God weet dat ons stoflike mense is. God ken ons swakhede en ons teleurstellings. God kan vergewe en herstel. Ook al gebeur dit op maniere wat anders is as wat ons verwag.

Wie hierop vertrou, kan op ʼn dag ontdek dat ʼn gebroke hart weer heel kan word. En dat die bitterheid kan versag tot nuwe begrip, deernis en selfs ʼn glimlag.

Maar dit kos meestal tyd, eerlike selfondersoek en harde werk.

O Here, dankie dat U ons swakhede ken. En dat U vergewe. Amen.

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.