Ek wil die Here loof! Here my God, U is baie groot … U wat die aarde stewig gevestig het sodat dit nooit sal wankel nie … die aarde is vol van wat U gemaak het, en tog U het alles in wysheid geskep (Psalm 104:1, 5, 24).
Psalm 104 is een van die heel mooiste lofpsalms in die Bybel.
Ons hoor hier allereers hoe die grote God deur sy sterke hand alles soos ʼn grootse kunswerk tot stand gebring het – die aarde, die hemelgewelf, die groot waters, die winde, die wolke, die berge en uiteindelik alles wat leef.
Meer nog, ons hoor hoe God met sy groot, vaardige hand die aarde steeds vashou en beskerm. In jubelende taal kondig die digter dit aan: hoe God die aarde stewig gevestig het sodat dit nooit sal wankel nie (Psalm 104:5). En hoe God die groot waters begrens en beteuel sodat dit nie sy skepping kan oorspoel of verwoes nie (104:9).
Maar klop hierdie siening met ons ervaring van die werklikheid vandag? ʼn Werklikheid wat vertel van ʼn aarde wat wankel, van aardbewings en tsoenami’s, van siklone en vloede, van droogtes en armoede, van dood en ellende. Om nie eens te praat van die mens se opsigtelike aandeel hierin nie.
Die wete van dreigende chaos en ellende was beslis nie onbekend aan die digter nie. Ook nie die wete dat die mens self hierdie chaos kan saai nie. Sy gebed dat die sondaars en goddeloses tog sal verdwyn (104:35), staaf dit. Maar hy hou daaraan vas dat God alles in wysheid, ja, met ʼn doel geskep het. En dat God ons hierin nooit sal verlaat of beskaam nie.
Vanuit hierdie troos het hy geleef. Dit het hom, ondanks sy gevoel van broosheid en onsekerheid, steeds laat sing en juig. Soos jy ook vandag kan doen.
O Here, terwyl ons aarde baie dae wankel, bly ons U vandag steeds loof as die Skepper en Onderhouer van alle lewe. Amen.
Carel Anthonissen