Toe hy hoor dat dit Jesus van Nasaret is, begin hy uitroep: “Seun van Dawid, Jesus, ontferm U oor my!” (Markus 10:47).
Wie Markus 10:46-52 aandagtig lees, kom gou agter dat – behalwe vir die fokus op Jesus se genesingsdaad – dit by uitstek ʼn verhaal oor ware geloof is.
Trouens, in hierdie verhaal kom verskillende kante of aspekte van egte geloof na vore – aspekte wat uiteindelik almal meespeel om Jesus tot sy uitsonderlike daad te beweeg.
Die eerste is dat ware geloof altyd begin met die vertroue en belydenis dat Jesus die Seun van God is, ja, dat God in en deur Hom op ʼn wonderlike manier onder mense werksaam was en steeds is. Van al die mense wat Jesus in Markus 10 omring het, was dit ironies en merkwaardig genoeg die blinde Bartimeus wat dít die beste raakgesien en geweet het.
Hóé weet ons nie presies nie, maar uit sy herhaaldelike uitroep: “Seun van Dawid, Jesus, ontferm U oor my!” word dit skielik duidelik hoe hy, meer as al die ander, Jesus herken het as die langverwagte Messias, die Seun van Dawid, die Seun van God.
Tereg skryf iemand: “I love that Bartimaeus – in his blindness – sees what the crowd does not. He calls Jesus ‘Son of David’, a title Jesus doesn’t make public during his ministry.”
Maar dis waar egte geloof, ten minste vir Christene, altyd begin: by hierdie belydenis dat Jesus die Seun van God is. Of, om dit meer persoonlik te stel, om uiteindelik soos Tomas, ondanks ons baie twyfel en vrae, voor Hom te gaan buig met die uitroep: “My Here en my God!”
Dit is dan ook die vraag vir my en jou vandag: Wie is Jesus vandag vir jou? Ja, wat maak jý met hierdie man van Nasaret?
Jesus, Seun van God, ondanks ons baie twyfel en vrae, buig ons vandag weer voor U met die woorde: “My Here en my God!”
Carel Anthonissen