Toe hy hoor dat dit Jesus van Nasaret is, begin hy uitroep: “Seun van Dawid, Jesus, ontferm U oor my!” (Markus 10:48).
Toe die blinde Bartimeus Jesus as die langverwagte Messias, die Seun van God, herken, begin hy herhaaldelik uitroep: “Seun van Dawid, Jesus, ontferm U oor my!”
Hierdie uitroep bring ons in dié verhaal by ʼn tweede kenmerk van egte geloof.
Dit is die besef dat ons as mense broser, afhankliker en meer hulpbehoewend is as wat ons meestal besef. Meer nog, ons is mense wat, soos die verlore seun van Lukas 15, neig om weg te breek van God. Om dan in die spreekwoordelike ver land – los van God en sy gebod – ons eie heil te gaan soek en uit te werk.
Totdat ons, soos Augustinus destyds, ontdek dat die menslike hart sonder God rusteloos en angstig bly. En die besef skielik daag dat ons na meer verlang as dit waaraan ons harte en sinne hulle hier en nou kan versadig. Ja, dat ons, soos Bartimeus, ontferming en genade nodig het.
Vir die sogenaamde mondige mense wat God nie nodig ag nie, sal Bartimeus se roep om ontferming waarskynlik altyd ʼn verleentheid wees, indien nie ʼn direkte aanstoot nie. Maar vir dié wat bereid is om hierdie dieper en dikwels onbewustelike verlange of nood te erken, is só ʼn roep altyd ʼn teken van ware geloof.
Roep dan vandag gerus weer na God. God sal jou nooit beskaam nie.
O Here, U ken my deur en deur. U ken my nood en my swakhede. Ontferm U tog opnuut oor my! Amen.
Carel Anthonissen