Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

ʼn Vrolike ruil

Hy gooi toe sy bokleed af, spring op en kom na Jesus toe (Markus 10:50).

ʼn Ander aspek van geloof wat in die blinde Bartimeus se verhaal na vore kom, is die moed om jou sekuriteite prys te gee en Jesus onvoorwaardelik te begin volg.

Soos Dietrich Bonhoeffer dit reeds in die vorige eeu uitgedruk het: “When Christ calls you, He bids you, come and die.”

In watter mate die blinde Bartimeus hiertoe bereid was, sien ons in die byna ongeërgde manier waarop hy sy bokleed afgooi toe hy hoor Jesus roep na hom. Baie lesers sal waarskynlik nie eens hierdie byna onopvallende handeling raaklees nie. Maar wat ʼn gebaar! Wat ʼn opoffering!

Vir die meeste bedelaars in daardie tyd was hulle bokleed die geheim van hulle daaglikse lewensonderhoud en bestaan. Dit was die kombers wat hulle in die koue nagte moes warm hou en beskerm, die mat waarop hulle gesit het om te bedel en die doek waarin hulle hulle daaglikse aalmoese kon toedraai en bewaar.

En nou, onder die geklank van Jesus se roepstem, gee Bartimeus daardie één ding prys wat sy identiteit en aardse oorlewing bepaal het; hy laat dit eenkant en begin Jesus op sy pad volg.

Op die oog af lyk Bartimeus se keuse na ʼn slegte ruil: die prysgawe van dit wat veilig en bekend is vir ʼn pad wat nuut en vol onsekerhede is. En tog, wie dié pad met vertroue loop, sal – in die woorde van Luther – uiteindelik ontdek dat dit ʼn vrolike ruil was.

Dit kan jy maar glo!

Here, ek weet nie waar dit my oral gaan uitbring nie, maar ek plaas my lewe vandag opnuut in u hand – my Here en my God! Amen.

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.