Boodskap vir Vandag

Search

Geloof verg selfvertroue

“Ek sal opstaan en na my pa gaan” (Lukas 15:18).

Om te glo verg nie net vertroue in God se troue en vergewende liefde nie.

Dit vra ook ʼn bepaalde vorm van selfvertroue – die oortuiging dat God nie moeg sal raak vir al ons gesukkel nie. En dat ons elke dag opnuut mag opstaan om na God toe te gaan, al het ons Hom gefaal.

Dit is presies hierdie selfvertroue wat ondermyn word wanneer ons teen ons eie beterwete toegee aan ongesonde versoekings, of terugval in allerlei slegte gewoontes en gebruike.

Behalwe dat ons waardigheid as mense daardeur aangetas en geskend word, kalwer sulke donker keuses en gedrag ook ons selfvertroue weg – die vrymoedigheid en durf om sonder ophou te bid; om God, by wyse van spreke, sonder oormatige skaamte en skuld in die oë te bly kyk. En te glo dat Hy ons altyd sal vergewe, steeds ʼn nuwe kans sal gun.

Die Bybel is vol mense wat in ʼn stadium misluk het, maar danksy God se genade en vergifnis tekens met selfvertroue kon opstaan en na die Vaderhuis kon terugkeer.

Jy mag vandag inval by dié groepie.

Gees van God, gee my vandag weer die moed en selfvertroue om op te staan en na die Vaderhuis terug te keer. Amen.

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.