Boodskap vir Vandag

Search

Om dit agter jou te laat

Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde. Hy sal ons ons sonde nie bly toereken en nie vir ewig toornig bly nie … So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons (Psalm 103:8-9, 12).

Ek stel belang in sport, veral die sielkundige kant daarvan.

Want in sport, soos met die gewone lewe, moet ons gedurig leer hoe om met grasie te wen én te verloor. Ja, hoe om ons suksesse en oorwinnings, maar ook ons terugslae en teleurstellings, met volwasse emosies te hanteer.

In dié verband bly dit belangrik om ʼn verlore kans of fout onmiddellik agter jou te sit en nie toe te laat dat dit jou konsentrasie verder negatief beïnvloed nie. Hierdie vermoë om foute of mislukkings onmiddellik te verwerk en onversteurd voort te speel, onderskei dikwels ʼn goeie sportpersoon van ʼn minder goeie een.

In ons alledaagse lewe, en spesifiek ons geloofslewe, is dit nie altyd so maklik nie. Daar kan ons foute en mislukkings, ook ons sogenaamde verborge sondes, ons bly pla en ons in permanente skuld en skaamte voor God dompel. Dit kan ons só verlam dat ons tou opgooi en ophou lewe. Dat ons nie meer lus voel om aan te gaan en voluit deel te neem aan die avontuur van die lewe nie.

Dit mág nie – veral omdat ek en jy die God dien wat genadig en barmhartig is. Die God wat nie vashaak by die verlede nie. Wat ons ons sonde nie bly toereken nie. Trouens, in en deur Christus het God ons oortredings permanent agter Hom gelaat.

En Hy verwag vandag dieselfde van jou.

O Here, ek loof en dank U vandag dat U ons sondes nie bly toereken nie. Laat dié wete my vandag inspireer om aan te gaan en voluit te leef. Amen.

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.