Ek het in hierdie wêreld ʼn bitter swaar ding gesien: dat ʼn man rykdom opgaar en dit vir hom ellende bring … Wat help dit dat hy hom vir wind afgesloof het? Hy slyt die res van sy lewe in die donker, in smart, ellende en bitterheid (Prediker 5:12, 15-16).
Hoewel ons werk ʼn voorreg bly wat ons lewe kan bevry en veredel, kan dit ons ook oneindig vermoei en gespanne laat.
Dit is veral waar van die korporatiewe wêreld waar mense dikwels ervaar dat hulle ʼn onpersoonlike skakel in ʼn groot maatskappy is – een van baie werktuie wie se prestasies dikwels net aan één iets gemeet word: hoeveel geld of inkomste jy genereer.
Sulke werk kan nie net oneindig vermoeiend raak nie, maar kan uiteindelik ook tot uitbranding (burnout) lei. Uitbranding word veroorsaak deur ʼn soort wanbalans wat soos volg deur iemand beskryf is: “Too much work or responsibility, too little time to do it, over too long a period.”
Hoe om dit te herken? Wanneer jy elke aand moeg gaan slaap en ewe moeg wakker word. Hierdie kroniese moegheid lei weer maklik tot allerlei siektes wat kan oorgaan in depressie, daardie aaklige gevoel dat jy vasgeloop is en dat niemand jou regtig kan help nie.
Hierdie gevoel of toestand, hoe sleg ook al, is altyd ʼn wekroep vir verandering, vir eerlike selfondersoek en ʼn radikale hersiening van jou huidige lewenspatroon en prioriteite.
Die vraag is of jy dié wekroep hoor. Want dit sal nog slegter wees as dit blyk dat jy jou, in die woorde van die Prediker, vir wind afgesloof het.
O Here, dankie vir ʼn werk, maar bewaar my daarvan dat dit ʼn onnodige las of vermoeienis word. Maak dit opnuut ʼn roeping wat vreugde en vryheid verskaf. Amen.
Carel Anthonissen