“Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word” (Matteus 5:9).
Verlede Sondag, 11 November, is die 100-jarige einde van die Eerste Wêreldoorlog in Europa en Engeland gevier.
Een van die plekke wat aan die viering meegedoen het, was Sunderland, ʼn kusdorp in die noordooste van Engeland wat destyds direk deur die oorlog geraak is.
Kunstenaars is uitgenooi om op die strand saam te trek, stories voor te lees en sandbeelde van die slagoffers van die oorlog te bou. Hierdie beelde is dan later deur die inkomende gety weggespoel as ʼn simbool van die mens se verganklikheid en die vernietigende uitwerking van oorlog.
Tydens hierdie ritueel het die bekroonde digteres Carol Ann Duffy ʼn aangrypende gedig met die titel “The wound in time” voorgelees. In hierdie gedig beween sy die aaklige wond wat oorlog vandag steeds slaan en sy laat ons met die ongemaklike vraag of ons ooit iets daaruit leer.
Dele van haar gedig lui:
“The century’s tides, chanting their bitter psalms, cannot heal this wound … The end of God in the poisonous, shrapneled air … We sense it was love you gave your world for … What happened next? War. And after that? War. And now? War. War. History might as well be water, chastising this shore; for we learn nothing from your endless sacrifice. Your faces drowning in the pages of the sea.”
Vir gelowiges wat geroep is om vredemakers te wees, mag ons hierdie verskrikking van oorlog nooit vergeet of regverdig nie.
O Here, gee ons vandag opnuut die insig en moed om u vredemakers op aarde te word. Amen.
Carel Anthonissen