“Die jongste het vir sy pa gesê: ‘Pa, gee my die deel van die besittings wat my toekom.’ Hy het toe die geld tussen hulle verdeel. Nie lank daarna nie het die jongste seun alles tot geld gemaak en van die ouerhuis na ʼn ver land toe vertrek. Daar het hy sy geld verkwis deur losbandig te lewe” (Lukas 15:12-13).
Die gelykenis van die verlore seun (Lukas 15:11-31) is ʼn ryk, ontroerende en troosvolle verhaal – een wat die hart van Jesus se boodskap op ʼn ongeëwenaarde wyse vertolk.
Dié verhaal gee eerstens vir ons ʼn blik op die groot ellende waarin impulsiewe gedrag en swak keuses ʼn mens kan dompel. Die jongste seun se versoek aan sy pa om sy erfdeel voortydig te bekom, was nie net ongehoord in daardie tyd nie, maar verraai reeds ʼn onverskilligheid teenoor die pa.
Meer nog, ons staan hier by wat teoloë oor jare heen reeds as die onbegryplike raaisel van die sonde geïdentifiseer het – dit is dat mense alles het wat hulle hart begeer en wat vir hulle geluk kan waarborg. Maar dan verkwansel hulle dit. Dit wil sê, hulle ruil dit in en vermors dit op nuttelose dinge.
Die seun se sinlose versoek en keuse lei uiteindelik daartoe dat hy summier wegbreek van sy vader en dié se huis. En wanneer dít gebeur, begin sy lewe uitrafel en hy beland in die grootste ellende denkbaar (Lukas 15:14-16).
Die hartseerste van hierdie verhaal is dat dit ʼn getroue beeld is van die raaisel wat hom nog elke dag in ons almal se lewe afspeel.
O Here, vergewe ons die dom keuses wat ons dikwels maak en wat ons van U vervreem. Moet ons tog nie vergeet nie. Amen.
Carel Anthonissen