Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Die wagtende Vader

“Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien en hom innig jammer gekry. Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom en soen hom” (Lukas 15:20).

Die hoogtepunt van die verhaal van die verlore seun is beslis die dramatiese herontmoeting van die pa en sy vervreemde seun.

Aangrypend hoor ons hoe die pa die seun al gesien het toe hy nog ver was, amper net ʼn spikkeltjie op die horison. En hoe sy hart by die aanskoue van hierdie gehawende en eensame man skielik vol deernis was. Sodat hy amper buite homself van vreugde die seun tegemoet gehardloop, omhels en hartlik soen.

Uit hierdie ontroerende toneel – waarby ons gerus ʼn oomblik in stilte kan vertoef – word dit skielik duidelik hoe groot en diep die pa se liefde vir sy seun was. Ja, hoe hy die hele tyd sedert sy seun se vertrek op hom gewag het. Hoe hy, by wyse van spreke, die hele tyd op sy stoep gesit het en op die uitkyk was vir hom.

Totdat hy met hulle weersiens sy seun se stamelende skuldbelydenis met ʼn liefdevolle omhelsing kon doodsmoor, asof die skuld en onreg van die verlede nie meer saak gemaak het nie. Die vreugde en die partytjie wat hierna sou volg, was waarskynlik ongekend in die geskiedenis van hierdie huishouding.

Maar dit is wat gebeur wanneer verlore en gekneusde mense hulle weg terugvind na God. God se vreugde raak volkome.

O, as ons dit maar elke dag kan ontdek en vir ons kan toe-eien!

Here, wanneer ons U begin soek, ontdek ons dat U ons nog altyd liefgehad het, nog altyd op ons gewag het, maar dat ons dit nie geweet het nie. Dat U só is – daarin wil ons ons vandag opnuut verbly. Amen.

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.