Hierteen het die Fariseërs en die skrifgeleerdes beswaar gemaak en gesê: “Hierdie man ontvang sondaars en eet selfs saam met hulle.” Toe vertel Jesus vir hulle hierdie gelykenis (Lukas 15:2-3).
Wie die gelykenis van die verlore seun – oftewel van die wagtende vader, het Thielicke gesê – lees, sal altyd ook die konteks waarin Jesus dié verhaal vertel het in ag moet neem.
Daarin alleen sit al ʼn eie boodskap vir ons tyd.
Jesus vertel dié verhaal allereers aan die Fariseërs en skrifgeleerdes na aanleiding van hulle beswaar dat Hy tollenaars en sondaars ontvang en selfs saam met hulle eet (Lukas 15:103). In dié opsig word die verhaal ʼn ontmaskering van die kerkleiers se vooroordele teenoor die randfigure, verstotelinge en veronregtes van daardie tyd. Ook van hulle onwilligheid om met hierdie mense te meng.
Meer nog, die verhaal word ʼn uitnodiging om nuwe grense oor te steek en die vreemdeling as ʼn vriend te leer ken. Om te ontdek dat die God van Jesus hulle wat in jou oë miskien veragtelik, verwerplik en verlore voorkom, steeds innig as sy weerlose kinders liefhet. Hulle selfs kan gebruik om jou lewe te verryk.
In ʼn tyd van mensonterende ideologieë en ongesonde nasionalismes waar eiebelang en selfliefde tot hoogste deug verhef en mense doelbewus uitgesluit word, bevat Lukas 15 ʼn aantal verhale (waaronder dié van “Die verlore seun”) wat weer gelees en gehoor moet word.
Want soos dikwels gebeur, kan die voor die hand liggendste en vanselfsprekendste waarhede van die evangelie aan ons verbygaan.
O Here, vergewe ons dat ons dikwels so eng en eksklusief leef. En gee ons vandag weer ʼn ruim hart soos U s’n. Amen.
Carel Anthonissen