Wat julle betref, broers [en susters]: Moenie moeg word om goed te doen nie (2 Tessalonisense 3:13).
Wie elke dag gebombardeer word met stories oor misdaad, geweld en korrupsie kan maklik die indruk kry dat die lewe, ja, die ganse werklikheid só is.
Dit is natuurlik nie heeltemal waar nie. Behalwe dat die nuus waaraan ons daagliks blootgestel word meestal selektief, negatief en sensasioneel is, is die lewe ook vol goeie en hoopvolle stories.
Net dié week tel ek ʼn relatief klein en onbekende blaadjie met die paslike en sprekende naam Getuie op. Dié blad is vol verhale van mense wat elke dag op ʼn stil manier ʼn verskil aan hulle omgewing maak.
Jy hoor van Kate Ncisana van Khayelitsha wat daagliks vroue oplei om krale te maak en só ʼn addisionele vaardigheid en inkomste kan bekom. Jy lees hoe 30 gevangenes deur ʼn kursus in Herstellende Geregtigheid leer hoe om self verantwoordelikheid te aanvaar vir die gemors in hulle lewe. Nog ʼn berig gaan oor Ambassadors Football wat gereeld week lange programme vir afrigters aanbied. Onlangs was daar 41 deelnemers wat nie net meer van sokker geleer het nie, maar ook meer van leierskap en hoe om ʼn goeie pa te wees.
Só kan ʼn mens aangaan.
Geen wonder die redakteur skryf nie: “Die lewe is mooi! Die lewe is kosbaar én broos. Die lewe is ook deurlopend aan die verander. Dit skep nuwe lewe en uitdagings wat ons potensiaal na vore kan bring.”
Inderdaad!
Here, help my vandag dat my lewe deel sal wees van die goeie stories in ons samelewing. Laat my nie moeg word om die goeie na te jaag nie. Amen.
Carel Anthonissen