“Dan is daar die mense by wie daar soos op goeie grond gesaai is, wat die woord hoor en aanvaar en vrug voortbring” (Markus 4:20).
ʼn Vriend wat ʼn suksesvolle skrywer is, stuur dié week aan my ʼn brief waarin hy die lot van skrywers en hulle werk ligweg bekla.
In sy brief verwys hy na ʼn joernalis wat die volgende kwytgeraak het oor boeke waarin skrywers gewoonlik hulle harte uitstort. Sy woorde was: “Vyftig jaar gelede reeds was om só ʼn boek te publiseer soos om ʼn klip in ʼn dammetjie te gooi en te kyk hoe hy sink, terwyl die rimpelings ʼn paar sekondes uitdu.”
Self voeg my vriend dan by: “Deesdae is dit soos om daardie selfde klip in die oseaan te gooi – daar is kwalik ʼn rimpeling.”
Sy woorde het my laat nadink oor die uitwerking van ons woorde en dade in die algemeen. Behalwe miskien vir die bekende nuusmakers van ons leeftyd, lyk dit of die meeste mense se invloed wat hulle deur hulle woorde en dade uitoefen, maar klein en gering is – kwalik ʼn rimpeling in die groot oseaan van die lewe.
En tog mag dit ons nooit ontmoedig of weerhou om dit wat in ons leef, wat ons bevry en wat sin aan ons lewe gee gedurig uit te druk en te deel met ander nie – hetsy deur woorde of dade wat verbeeldingryk en opbouend is.
Soos Jesus se woorde, wat Hy self in ʼn stadium met weerlose saad vergelyk het, lyk ons bydrae dalk klein en onbenullig. Maar iewers, wie sal weet, kan dit – soos met saad wat in goeie grond val – onverwags vrugte begin voortbring. Ja, kan dié klein rimpeling ʼn lewe raak en verander.
Daarop kan ons as gelowige altyd vertrou.
Here, salf vandag ons woorde sodat dit soos goeie saad in mense se lewe sal val. Amen.
Carel Anthonissen