Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet (Romeine 8:28).
Robert Seethaler se boek A whole life, wat in 2016 op die kortlys vir die Bookerprys was, gaan presies oor dit wat die titel suggereer.
Dit gaan oor die volle lewenspan van ʼn man met die naam Andreas Egger.
Andreas het dit in sy lewe swaar gehad. Behalwe dat hy vanweë mishandeling as kind ʼn kreupel was, het hy ook ná ʼn kort maar baie gelukkige huwelik sy vrou in ʼn tragiese ongeluk verloor. Hierna sou hy boonop die trauma van oorlog meemaak en etlike jaar as ʼn gevangene in ʼn strafkamp deurbring.
Tog was Andreas ʼn sterk, hardwerkende man wat nie toegelaat het dat die rampspoed van die lewe hom onderkry nie. Altyd het hy die gelukkige oomblikke in sy lewe, meer as die slegtes, bly koester. Sodat hy aan die einde van sy lewe, terug in sy tuisdorp tussen sy geliefde berge, geweet het dat alles tog ten goede uitgewerk het.
In Seethaler se woorde: “In his life too, like all people, he had harboured ideas and dreams. Some he had fulfilled for himself, some had been granted to him. Many things had remained out of reach, or barely had he reached them than they were torn from his hands again. But he was still here. And in the morning after the first snowmelt, when he walked across the dew-soaked meadow outside his hut and lay down on one of the flat rocks scattered there, the cool stone at his back and the first warm rays of the sun on his face, he felt that many things had not gone so badly after all.”
Dis tog ʼn groot seën as ons só na ons lewe kan kyk.
O Here, hou ons vandag weer bewus van die goeie dinge in ons lewe en maak ons dankbare mense, ten spyte van die onvoorspelbaarheid van die lewe. Ons dank U opnuut vir soveel onverdiende gawes. Amen.
Carel Anthonissen