U het hom (die mens) net ʼn bietjie minder as ʼn hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon (Ps 8:6).
Friedrich Schleiermacher, die groot teoloog-filosoof, het eenkeer diep ingedagte op ʼn bankie in ʼn park gesit. Ongemerk het die ure verbygegaan en dit het tyd geword dat die hekke van die park gesluit moes word. Die parkopsigter het by Schleiermacher gekom en hoflik gevra: “Wie is u, Meneer?”
“Ek? Ek wens ek het geweet!” was die geleerde se antwoord.
Ja, die mens is ʼn geheimenis, ʼn wonder. Ons is die enigste van God se skepsels wat kan sê: “Ek.” Voëls en visse het nie ʼn besef van hulle self nie. Hulle bestaan bloot instinktief, spontaan. Maar óns kan nadink oor alles, oor die skepping, oor God … en oor onsself. Ons het ʼn selfbewussyn. Dit is ʼn grootse wonder dat ons van onsself bewus kan wees as wesens met ʼn eie identiteit, unieke skepsels wat anders is as die wêreld, anders as ander mense. Veral is dit ʼn wonderlike voorreg dat ons voor die aangesig van God mag sê: “Ek … U!” Dat ons, soos Abraham, mag waag om God te antwoord met: “Hier is ek!” (Gen 22:1).
Wie is ek? Miskien weet ons dit net so min soos Schleiermacher. Maar een ding weet ék ten minste: Ek is God se skepsel, die kroon van sy skepping, uniek, van onskatbare waarde vir Hom (Ps 8:6-9). Ek is selfs ʼn beelddraer van God. Ek hoef nie van myself min te dink of my te verknies as iemand anders min van my dink nie. Daar is niemand, was nog nooit iemand en sal nooit iemand soos ek wees nie. Deur God gemaak! En Hy skep niks wat tweederangs is nie.
Daar is niemand, was nog nooit iemand en sal nooit iemand soos ek wees nie.
Dankie, Vader, dat ek ʼn eersteklasmens kan wees omdat dit U is wat my gemaak het. Amen.
Johan Cilliers