Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? (Rom 7:24).
Martin Luther het eenmaal gesê die wese van die sondeval is dat die mens volkome selfsugtig is; dat ons van nature totaal op onsself ingekeer is: homo incurvatus in se, soos hy dit in Latyn gestel het.
Die sonde wil altyd die eie ek in die heersersposisie in my lewe sien. Dit wil alles laat inval by my eie se belange en begeertes: My eggenoot, my kinders, my ouers, my vriende moet my dien. Alles in my lewe moet sentreer rondom my prestige, sukses, bevordering, besittings.
Hoe allesoorheersend is ons selfliefde! Die ironie is dat ons selfbeheptheid ons op die ou end nie gelukkig maak nie. Inteendeel. Mense wat net vir hulleself leef, is ongelukkige mense. Paulus het iets hiervan ingesien en moes benoud uitroep: Ek, ellendige mens! (Rom 7:24). Om vervuld en sinvol mens te wees, kom eers as jy leef vir ander, as jy daar is vir ander, as jy leer om nie net “ek” te sê nie, maar ook “ons”.
Gaan dus hierdie dag in, nie met die gedagte om net vir jouself te werk en te werf nie, maar om iets – al is dit hóé klein – vir iemand te beteken. En kyk dan hoe word jy méns!
Natuurlik is dit nie ʼn maklike manier van leef nie. Dit gaan lynreg in teen ons grein en ego. Daarom moet ons dit oefen. Gelukkig kan ons reken op die krag en ondersteuning van God wat sy eie “Ek” – Jesus Christus – vir ons gegee het. Sodat ons kan ophou gryp, en begin gee. Vandag al.
Ware menswees kom eers as jy leef vir ánder.
Vader, gryp my – sodat ek kan gee, vir ander. Amen.
Johan Cilliers