Terwyl ons dan so ʼn groot skare geloofsgetuies rondom ons het … (Heb 12:1).
“Dit is ʼn slegte wêreld, Donatus, ʼn ongelooflik slegte wêreld. Maar te midde daarvan het ek ʼn stille en heilige volk gevind wat ʼn groot geheim ontdek het. Hulle het ʼn vreugde gevind wat duisend maal beter is as enige plesier wat ons sondige lewe kan bied. Hulle word verag en vervolg, maar hulle gee nie om nie … Hulle het die wêreld oorwin. Hierdie mense, Donatus, is Christene. En ek is een van hulle.”
So skryf Siprianus, die biskop van Kartago, in 300 nC aan sy vriend Donatus, en erken dan dat hy self ook ʼn Christen is.
“Ek is ʼn Christen.” Wat ʼn groot voorreg – en verantwoordelikheid – om dit te mag sê! Party mense sê dalk dit is darem ʼn aanstellerige, selfs verwaande aanspraak. Vir sommige kan die woordjie “ek” parmantig op die oor val. En tog mag ek dit sê!
Deur my geloof in Christus skaar ek my by die “groot skare geloofsgetuies” waarvan Hebreërs 12:1 praat. Ek is een van die gelowiges van alle eeue, volke, nasies, tale en kontinente. Ek dra die naam “volgeling van Christus”. Ek is ʼn Christen! Ek is een van hulle!
Is jy?
Wanneer ek my geloof bely, skaar ek my by die skare gelowiges van alle eeue, volke, nasies, tale en kontinente.
Vader, dankie dat ek ook “ons” mag sê. Amen.
Johan Cilliers