“Ek glo … Help my in my ongeloof” (Mark 9:24).
ʼn Paar dae voor sy dood het Martin Luther op ʼn papiertjie geskryf: “Ons is bedelaars. Dit is waar 16 Februarie, anno 1546.” Daarmee het hy eintlik verwys na ons voortdurende afhanklikheid van die Woord van God, en die onuitputlike rykdom van hierdie Woord. Maar in werklikheid is dat die totale leefstyl van die gelowige dié van ʼn bedelaar is. Daar is nie so iets soos geloofshelde nie. Net geloofsbedelaars. Geloof is slegs die leë hand waardeur ek ontvang wat God my voortdurend moet gee. As bedelaar in die geloof kan ek maar net sê: “Ek glo … help my in my geloof” (Mark 9:24).
Geloof as sodanig het geen krag nie. ʼn Mens kan nooit in jou eie geloof glo nie. Geloof is gerig op God; dit is afhanklik van God, en dit gaan op in God.
Die wonder is, as ons soos bedelaars voor God kom staan, laat Hy ons nooit met leë hande weggaan nie. Hy vul ons hande met sy goedheid. Hy stort sy genade in oorvloed oor ons uit. Sodat ons telkens verbaas staan voor die besef: Ek is ʼn Koningskind! Skatryk! Al wat God van ons “vra”, is om op te hou probeer. Baie mense – ook goeie mense – probeer juis te hard om “opreg” te glo. En in die proses word hulle nooit bedelaars met leë hande voor God nie. Niemand kan ooit “goed genoeg” glo om God te beïndruk nie. Ook ons geloof is genade wat ons maar net soos bedelaars van God kan ontvang.
Daarvoor kan enigeen gelukkig “kwalifiseer”, juis omdat God geen “kwalifikasies” vra nie. Niemand is te “sleg” om te glo nie. Ook nie jy nie. Al weet jy nie eens óf jy glo nie. Solank jy net weet in Wie jy glo …
Jy hoef nie te weet óf jy glo nie. Solank jy net weet in Wié jy glo.
Vader, dankie dat u genade my die eksamen van geloof laat slaag. Amen.
Johan Cilliers