Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie (Ps 103:2).
Alles in die skepping is daar om God te prys. Diep onder in oseane, waar geen mens se oog nog gesien het nie, is die pragtige, veelkleurige visse daar tot sy eer. Die pers getinte bergpieke verkondig sy lof. Branders, bome, blomme getuig van sy grootheid! Iemand het eenmaal die skepping vergelyk met ʼn magtige orrel waarvan elke pyp sy eie klank laat weerklink, van die dreungeluid van die groot baspype tot die fyn klanke van pypies so groot soos stopnaalde. As elkeen sy eie klank voortbring, klink dit eentonig, maar as almal saam speel, is dit ʼn simfonie van klank! Ek en jy het ook ʼn plekkie in dié simfonie.
As God se kinders, as verlostes, het ons die voorreg om Hom te prys. Maar nie net in die kerk nie. Of ons wasgoed ophang, motor bestuur, ʼn preek maak, ʼn blik oopsny of eksamen skryf, elke doodgewone aktiwiteit, elke uur van elke dag, bied ʼn geleentheid vir lof. Leer om God raak te sien in die alledaagse; om telkens na bo te kyk en Hom te dank. Leer om te sê: “Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie” (Ps 103:2). Want God móét geprys word. Omdat Hy groot is. Omdat Hy goed is. Omdat Hy God is.
As elkeen ʼn eie klank voortbring, klink dit eentonig, maar as almal saam speel, is dit ʼn simfonie tot God se eer.
Vader, ek is maar ʼn klein pypie in die groot pyporrelspel tot u eer. Maar dis genoeg. Amen.
Johan Cilliers