Ons is immers die tempel van die lewende God (2 Kor 6:16).
Daar word vertel dat Martin Luther, die groot Hervormer, van tyd tot tyd in sy lewe aan sware neerslagtigheid gely het. Hy kon hom verknies oor dit, dat en nog wat. Sy vrou, Kate von Bora, het hom só aanskou en op ʼn dag haar rouklere aangetrek. Toe Luther haar sien, het hy gemeen sy het ʼn doodstyding ontvang terwyl hy nie daar was nie. Ontsteld vra hy vir Kate: “Waarom is jy só aangetrek? Wie is dan dood?” Haar ironiese antwoord was: “Hoe sal jy dan nie weet nie? Jou God is mos dood!” Ná ʼn oomblik het Luther begryp wat sy bedoel: Hy tree op asof God dood is.
Nee! Ons God is nie dood nie. Hy leef. Hy is die lewende God wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daar is, gemaak het (Hand 14:15). Hy is die lewende God wat van óns sy woonplek gemaak het – ons is immers die tempel van die lewende God (2 Kor 6:16). Die lewende God is so naby aan ons dat Hy binne-in ons is! Waarom sal ons ons verknies oor die sorge van die lewe en die aansprake van die dood? Die Een wat in ons leef, is sterker as die dood, die neerslagtigheid, die wanhoop in en om ons.
Luther het natuurlik na die vermaning van sy vrou geluister. Hy het (telkens) uit sy neerslagtigheid opgestaan. Jy kan ook. Gaan hang jou rouklere in die kas op. Nog beter: Verbrand dit. Want God leef!
Die lewende God is so naby aan ons dat Hy binne-in ons is.
Lewende God, vergewe my dat ek so dikwels leef asof U dood is. U leef ewig, selfs al sou ék sterf. Amen.
Johan Cilliers