Ek het gesien daar staan ʼn troon in die hemel (Op 4:2).
Die staatsekretaris van Oliver Cromwell was eenkeer op ʼn belangrike seereis en kon een nag nie slaap nie. Hy het ʼn voorgevoel gehad dat iets verskrikliks tydens dié reis sou gebeur. Hy maak toe een van die amptenare wakker om sy vrees met hom te deel. As antwoord vra die amptenaar of hy vir die staatsekretaris drie vrae kan vra. “Seker,” antwoord die sekretaris.
“Eerstens, het God regeer voor ons gebore is?”
“Ja,” het die sekretaris toegegee.
“Tweedens, sal God regeer nadat ons dood is?”
“Ja,” moes die sekretaris weer instem.
“Derdens, moet ons God dan nie ook vertrou met die hede, hierdie nag, en met die res van ons reis nie?”
Die bekommerde sekretaris kon die wysheid van dié vrae insien en het rustig gaan slaap.
Christene is dikwels net so vergeetagtig soos dié vreesbevange man. Hulle vergeet die troue sorg van God in die verlede, die seëninge, die krag wat hulle in elke krisis ervaar het, die wete van sy nabyheid, die verlossing. Kortom, hulle vergeet wat God in Christus gedoen en gegee het. Daarom wanhoop hulle dikwels wanneer vandag eise aan hulle stel en môre soos ʼn berg voor hulle lê.
Wie regeer oor verlede, hede en toekoms?
Die Skrif het net een antwoord: God. Eendag het Johannes ʼn visioen gesien van Hom wat op die troon sit (Op 4:2) en as Koning van die konings en Heer van die here regeer. Hy swaai die septer. Hy is die middelpunt van die heelal. Hy regeer … as die Almagtige. Dié regering van God is tot ons beswil. Ons Verlosser, Jesus Christus, sit immers óók op die troon (Op 5:7). Daarom is daar voor dié troon vir ons troos – en geruste nagte – moontlik!
Daar is troos voor die troon van ons Vader.
Almagtige Vader, ek bring vandag my gisters en my môres en my vandag na U toe. Amen.
Johan Cilliers