Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Skyn bedrieg

“Ek is die Alfa en die Omega” (Op 22:13).

Wie heers oor die wêreld? Wie bepaal die gang van die geskiedenis? Wie hanteer die wissels vir die spore waarop die trein van die geskiedenis die toekoms tegemoetstorm?

As ʼn mens met ʼn menslike bril na die wêreld kyk, sou jy hieroor maklik kon twyfel: Wie het die mag in die hand wanneer die chaos en die sinloosheid dag vir dag om ons toeneem? Wie beheer die motorongeluk waardeur ʼn hegte huisgesin uitmekaargeskeur word? Wie is eintlik in beheer wanneer mense die aarde aftakel? Wanneer ruolie in die oseane van die wêreld gestort word en robbe en meeue, krewe en krappe in die olieslik na asem en lewe moet snak? Wanneer kernreaktors hulle dodelike gasse oor kontinente uitspoeg? Wanneer goedbedoelde vredespogings in bloed versmoor?

Oënskynlik is dit die Bose wat regeer, nie God nie. Maar skyn bedrieg. Die gang van die wêreldgeskiedenis word nié uiteindelik deur die Bose bepaal nie, ook nie deur hulle wat ons televisieskerms en dikwels ook ons bang gedagtes vul nie. Die toekoms rus ook nie in die hande van mense wat puik politieke programme opstel of blink ekonomiese insigte het nie – hoe belangrik dit ook al is. Nog minder word ons toekoms verseker deur die slaankrag van bomme of die staalkrag van kanonne.

Wie is dan in beheer? Ten spyte van alles wat in die lewe verkeerd loop, en waarvoor ons dikwels sélf verantwoordelik is, is dit Gód wat sy hande rondom alles het … en hou. Hy is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde (Op 22:13). Hy regeer … oor die verlede, die hede en die toekoms. Ook oor myne. En joune.

God regeer oor die verlede, die hede en die toekoms. Ook oor myne.

Vader van die eeue, ook my bietjie tyd pas in u plan. Amen.

Johan Cilliers

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.