Boodskap vir Vandag

Search

ʼn Heilige materialisme

“Gee ons vandag ons daaglikse brood” (Matt 6:11).

Daar is minstens twee maniere waarop ʼn mens die skepping en daarom ook die gawes van God kan beskou. Aan die een kant is daar die onheilige materialisme van die ongelowige wêreld. Dáár gaan dit oor meer en mooier, nie oor die dankbare gebruik van God se gawes nie. Dit gaan oor ʼn verbruikersmentaliteit, oor die blote versadiging van egosentriese behoeftes. Ons ding mee om in die beste woonbuurte te woon, ons kinders na die beste skole te stuur en die mooiste of duurste motor(s) te besit.

Daarmee wil ek nie sê dat die Here sonder meer iets teen hierdie dinge het nie. Maar gelowiges het ʼn ánder ingesteldheid teenoor besittings. Waar die wêreld, as uitvloeisel van sy onheilige materialisme, uitroep: “Gee my méér!”, bid gelowiges: “Gee ons vandag ons daaglikse brood” (Matt 6:11). Gelowiges se gesindheid teenoor aardse dinge is ʼn uitvloeisel van hulle verhouding met die Gewer van dié dinge. ʼn Mens kan dit ʼn heilige materialisme noem. Waar die wêreld eis: “Gee!” en dan gryp, bid gelowiges: “Gee,” en sê dan dankie.

Dit is bevrydend om die insig te kry dat “ons” besittings nie aan ons behoort nie, maar aan God. Daarom moet ons dit telkens met dank uit sy hand ontvang. My huis is nie my eie nie, al besit ek die transportakte daarvan. My motor, swembad, beleggings, pensioenskema, erflating behoort aan God. My man of vrou, vader en moeder, ou of meisie, seun of dogter behoort nie aan my nie, maar aan God. Die goud, diamante en steenkool in die skoot van die aarde, die natuurskoon van ons mooi land, behoort nie aan ons nie; dis God se eiendom. Kortom: alles wat ons is en alles wat ons het, kom van God. Sal ons Hom nie daarvoor dank nie?

Die wêreld eis: “Gee!” en gryp dan; gelowiges bid: “Gee,” en sê dan dankie.

Vader, wat ek is, is net genade; wat ek het, net geleen. Amen.

Johan Cilliers

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.