Dit is aangenaam om te eet en te drink en die lewe te geniet (Pred 5:17).
ʼn Ou kerkvader wou hom tydens die Middeleeue heeltemal aan die sondige wêreld onttrek. Toe bou hy vir hom ʼn huisie op ʼn paal. Kos en water moes daagliks letterlik na hom toe opgekatrol word. Hoog bo die aarde, daar op sy stellasie, as’t ware net onder die hemel, het hy gemeen om heilig te word.
Nee! God plaas ons nie op pale bo die aarde nie. Hy het die aarde gemaak en gesê: Dit is goed (Gen 1:4 en verder). God wil hê ons moet op hiérdie aarde woon. Meer nog, Hy wil hê ons moet die aarde, die lewe, geniet! Dit is presies wat die Prediker, nogal die skynbare pessimis, sê: “Ek het … iets gesien wat goed is: dit is aangenaam om te eet en te drink en die lewe te geniet onder al die geswoeg op hierdie wêreld … God gee aan ʼn mens rykdom en besittings en laat hom dit geniet. God laat die mens sy deel ontvang en sy werk met vreugde doen. Dit is ʼn gawe van God. So ʼn mens dink skaars na oor wat in sy lewe gebeur, so vol is hy van die blydskap wat God gee” (Pred 5:17-19).
Die sleutelwoorde wat volgens die Prediker ʼn gelowige se leefstyl behoort te kenmerk is: goed, aangenaam, geniet, vreugde en blydskap. En dit is moontlik omdat God die lewe gee. En die lewensin. Ja, want “wie kan eet, wie kan geniet as Hy dit nie moontlik maak nie?” (Pred 2:25).
Om heilig te kan wees, hoef ons nie stellasies tot teen die hemel te bou nie; ons kan maar net met ons voete op hierdie aarde staan. God se aarde.
Om heilig te kan wees, kan ons maar net met ons voete op hierdie aarde staan. God se aarde.
Vader, leer my om dié dinge te bedink wat daar bo is. Terwyl ek op moederaarde is. Amen.
Johan Cilliers