Boodskap vir Vandag

Search

Koning

Die Here is my herder (Ps 23:1).

Christus is nie net ons Profeet en Hoëpriester nie; Hy is ook ons Koning. Maar dan soos geen ander koning nie! WeI oefen Hy alle mag en gesag uit en Hy swaai die septer oor die kerk en die wêreldgeskiedenis – maar Hy doen dit ook as Herder. Hy lei sy volk in liefde en barmhartigheid. Ons Koning is ʼn Herder! En Hy werk sag met ons …

Koning Dawid het ook die titel “herder” gedra. In Psalm 23 bely hy egter dat hy, wat self koning-herder van Israel is, ʼn groot Koning-Herder het. Hierdie Koning-Herder betoon mag en liefde; Hy swaai die septer wat tog ook ʼn stok en ʼn staf is (Ps 23:4, 1953-vertaling). Hy vertroos Israel, hou hulle bymekaar soos ʼn kudde, behoed en bewaar hulle …

Die herderlike liefde van God sien ons nêrens duideliker nie as in Christus – Hy wat as goeie Herder sy lewe afgelê het vir sy skape (Joh 10:11). Die dag daar op Golgota het dit gelyk asof “die Koning van die Jode” geen mag het nie. Op sy kop was ʼn spotterskroon. In sy hand slegs ʼn rietsepter. Hy is gegesel en gekruisig en in ʼn graf neergelê …

Maar die graf kon Hom nie hou nie! Want hierdie Koning-Herder is God, is Here. En: die Here is my herder! (Ps 23:1).

Ons Koning dra ʼn spotterskroon, en hou ʼn rietsepter in sy hand …

“Hy wat as die oorwinnaar staan, kom op die wolke weer: hef al wat leef jul loflied aan en dien Hom, volg Hom, loof Hom: Koning, Herder, Heer!” (Gesang 182:5). Amen.

Johan Cilliers

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.