Boodskap vir Vandag

Search

God-mens

Hierdie man was werklik die Seun van God (Matt 27:54).

Toe die kerkvaders die wonder van die geboorte van die Seun van God moes probeer beskryf, kon hulle slegs stamelend bely: Vere Deus et vere homo. “Waarlik God en waarlik mens.” Aan albei hierdie twee waarhede oor Jesus Christus moet ons vashou. Ons mag nie een van die twee uit die oog verloor of oorbeklemtoon nie.

Dit het die geskiedenis bewys: Wanneer die Godheid van Jesus verloën word, word Jesus slegs as ʼn buitengewone mens vereer – wel deur God uitverkies vir ʼn bepaalde taak, maar steeds bloot mens. Só word Jesus dan in die gedagtes van mense niks meer nie as die groot voorbeeld, die ware humanis. Wanneer die menslikheid van Jesus verloën word, word Hy bokant die geskiedenis uitgelig, word Hy uiteindelik ʼn wêreldvreemde figuur wat ʼn paar teoretiese leerstellings op aarde nagelaat het. Maar niks meer nie.

Maar Jesus is God én mens! Waarom moes dit so wees? Hy moes God wees, anders sou Hy ons nooit kon verlos nie. Geen mens of engel was daartoe in staat nie. Daarvoor is die diepte van die sonde te afgryslik. Hy moes ook mens wees om juis die straf op hierdie sonde te dra, om juis werklike verlossing te bewerkstellig (nie bloot teoreties nie). Daarom kan die offisier wat by was toe Jesus gekruisig is, uitroep: “Hierdie man was werklik die Seun van God” (Matt 27:54). Hy was ʼn man, maar ook Seun van God! Wat is Jesus vir jou?

Jesus – waarlik God en waarlik mens.

Here Jesus, waarlik God en waarlik mens! Dankie dat U my, mens, waarlik terugbring by God. Amen.

Johan Cilliers

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.