“Ek is die weg en die waarheid en die lewe” (Joh 14:6).
Jesus Christus was nie die enigste groot geestelike leier wat op aarde geleef het nie. Dink maar aan iemand soos Boeddha. Miljoene mense het hom aangehang, en doen dit vandag nog. Aan die einde van sy lewe kon hy slegs sê: “My lering wys die weg aan om die waarheid te vind.” Ook die profeet Mohammed se aanhangers tel in die miljoene. Hy het gesê: “Die waarheid is aan my geopenbaar.” Die wyse mense van die wêreld stem saam dat daar maar een waarheid is, maar hulle praat op verskillende maniere daaroor.
Jesus was die een geestelike leier wat nie net oor die waarheid gepraat of saam met ander wyses daarna gesoek het nie. Hy ís die Waarheid in die diepste sin van die woord. Kort voordat Hy vir die verlossing van mense aan die kruis sou sterf, het Hy aan sy dissipels gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe” (Joh 14:6). Die Christelike geloof is nie gegrond op ʼn stelsel van sedelike waardes of voorskrifte nie. Dit is uniek omdat dit gerig is op ʼn Persoon. Om die Christelike geloof te bely beteken nie om ʼn paar waarhede aan te hang nie; dit is om kennis te hê van die Waarheid. Dit is nie bloot om ʼn ideaal na te jaag nie, maar ʼn verblyding oor die verlossing.
Dit alles is slegs moontlik omdat Jesus God, ja, die eniggebore Seun van God is. Die Engelse staatsman William Gladstone het hieroor gesê: “Alles wat ek skrywe en alles wat ek dink en alles wat ek hoop, is gegrond op die Godheid van ons Heer. Dit is die een sentrale hoop van ons arme weerspannige ras.” Die middelpunt van die evangelie is ʼn Persoon. Jesus. God self. Sal ons Hom aanbid?
Die Christelike geloof is nie gegrond op ʼn stelsel sedelike voorskrifte nie, maar gerig op ʼn Persoon.
Here Jesus, dankie dat die Waarheid, U self, my vrymaak. Amen.
Johan Cilliers