Hy was … in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie (Heb 4:15).
Moeder Teresa van Kolkata, wat haar lewe aan die versorging van die aarde se armstes en sterwendes gewy het, is seker die bekendste voorbeeld van ʼn moderne “heilige”. Maar daar is ook baie ander mense wat hulle skynbaar geheel en al aan God en aan diens aan hulle medemens toewy. Dink byvoorbeeld aan die magtige kerkhervormer Martin Luther. En tog moes hierdie selfde Luther op ʼn keer van homself sê: “Ek was ʼn vroom monnik en het die reëls so stiptelik nagekom dat ek kan sê: As daar ooit ʼn monnik deur sy leefwyse in die hemel sou kon kom, sou dit ek moes wees. Want, as die leefwyse nog langer moes duur, sou ek my doodgemartel het met waak, bid, lees en werk. Tog het ek by elke klein aanvegting van dood of sonde geval – en in die doop of die werke van ʼn monnik het ek niks gevind wat my kon oprig nie. Christus en sy doop het ek deur my swakheid lank reeds verloor. So was ek dus die ellendigste monnik op aarde. Dag en nag was daar weeklag en wanhoop en niemand kon help nie.”
Ten spyte van sy vroom lewe moes ook Luther uitvind: Selfs die heiligstes onder ons bly steeds sondaars. Niemand minder nie as die apostel Paulus moes uitroep: “Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie” (Rom 7: 19). Al word ons gered, bly ons steeds geregverdigde en sondaar – soos die bekende Latynse uitdrukking heet: simul iustus et peccator.
Niemand op aarde is, was of sal ooit sonder sonde wees nie. Behalwe Een. Jesus, die eniggebore Seun van God. Hy is wel “in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie” (Heb 4:15). Juis daarom kan Hy sondaars verlos. Ook die heiliges.
Al word ons gered, bly ons steeds geregverdigde en sondaar.
Jesus, heilig my, sondaar wat ek is. Amen.
Johan Cilliers