Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Aangenome erfgename

Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus (Rom 8:17).

Gewone mense sukkel altyd om die wonder van Jesus, wat God is, se menswees onder woorde te bring. Ten beste kan ʼn mens daaroor sing. As jy praat, stotter en stamel jy. Die kerkvaders het ook probeer om die wonder te verwoord en toe by twee begrippe uitgekom: adoptio (aanneming) en assumptio (toevoeging). Daarmee wou hulle min of meer die volgende sê: Jesus is nie omdat Hy so ʼn buitengewone mens was deur die Vader as sy Seun “aangeneem” nie. Nee, Jesus was altyd, van ewigheid tot ewigheid, God se Seun. Sy eniggebore Seun. Een van die Persone in die Drie-eenheid.

Wat wel gebeur het, is dat die Seun se menslike natuur by sy Goddelike natuur “gevoeg” is. Anders gestel, die menswees van Jesus is by sy geboorte tot sy Godwees toegevoeg. Daarmee is ons maar weer terug by die wonder: waarlik God in die gestalte van ʼn ware mens! Kan iemand dit beter verwoord?

Ons kan verder sê: Jesus is nie as Seun deur die Vader aangeneem nie. Maar ons is! Omdat Jesus geen aangenome kind is nie, kan ons dit wees. Paulus sê: “Julle het nie ontvang ʼn gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader!” (Rom 8:15, 1953-vertaling). Ons word dus saam met Christus God se erfgename! (Rom 8:17). Aangeneem, maar erfgenaam. Optelkinders, maar met ʼn Vader. Want ons het ʼn ewige Broer: Christus.

Omdat Jesus geen aangenome kind was nie, kan ons dit wees.

Here Jesus, my naam verskyn saam met u Naam in ons Vader se testament. Amen.

Johan Cilliers

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.