Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Bose konsentrasie

Hy (God) het elke mag en gesag ontwapen (Kol 2:15).

Tydens ʼn konferensie het iemand aan Karl Barth, die wêreldberoemde Switserse teoloog, gevra wat hy van die duiwel dink. Hy het ʼn paar oomblikke nagedink en geantwoord: “Ons hoef die duiwel nie te vrees nie.” Die omstanders was verbaas, totdat hy bygevoeg het: “Christus het hom mos oorwin. Hy is die Heer, die enigste Heer, ons Heer.”

ʼn Mens moet die duiwel nie onderskat nie. Maar jy moet hom beslis ook nie oorskat nie. Want die gevaar is dat Christene so op die duiwel kan konsentreer dat Christus heeltemal uit hulle gesigsveld verdwyn. Die beste is om die duiwel een indringende kyk te gee, en hom dan te ignoreer.

Sommige gelowiges is so besig om die duiwel te beveg, so besig om hom oral en altyd te probeer uitsnuffel, dat hulle feitlik geen tyd of energie oor het om Christus te dien en te loof nie.

Die duiwel is werklik nie al die aandag werd nie. Christus, ons Here, is. Die beste manier om die Bose en sy werke in die wêreld en in jou lewe te beveg is om Christus te prys en jou oog op Hom te hou. Die duiwel en sy bose magte, so sê Kolossense 2:13-15, is reeds deur God “ontwapen” en word soos die oorwonne gevangenes van destyds “in die triomftog van Christus” meegevoer.

Die Oorwinnaar is Christus. Ons is bevry – om Hom te prys!

ʼn Mens moet die duiwel nie onderskat nie, maar beslis ook nie oorskat nie.

Jesus, U is die Heer. Leer my op U konsentreer en die duiwel ignoreer. Amen.

Johan Cilliers

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.