“As hulle stilbly, sal die klippe uitroep” (Luk 19:40).
Daar word vertel van ’n tienermeisie wat tydens die hoogtepunt van die kommunistiese bewind in Rusland ter dood veroordeel is weens haar sterk geloofsoortuigings. Sy sou, soos dit skynbaar destyds in die Russiese tronke die gebruik was, om middernag voor ’n vuurpeloton sterf. Toe die wagte haar kom haal, het die ander gevangenes bitterlik gehuil. Dit was egter nie nodig om haar na die plek van teregstelling te dwing nie. Fier en regop het sy tussen die twee wagte gestap. Terwyl haar voetstappe wegsterf, kon die ander gevangenes hoor hoe sy die Apostoliese Geloofsbelydenis opsê. Nog nooit het hulle, wat ook Christene was, dit só gehoor nie. Al vaer maar, weens die doodse stilte in daardie blok van die tronk, tog hoorbaar tot in die uithoeke van elke sel. Tot die geknal van die vuurpeloton haar stem stilgemaak het …
“Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde. En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here …”
Dis natuurlik maklik om te sê “Christus is die Here” wanneer jy dit in ’n vriendelike atmosfeer kan doen. Dat ons dit in ons land kan doen, is rede tot dankbaarheid. Maar die toets vir die egtheid van so ’n belydenis kom dikwels eers wanneer jy dit teen ander gode, teen ander here in moet sê.
Vir die vroeë Christene het die belydenis dat Christus – en nie die keiser nie – Kurios (Here) is dikwels hulle dood beteken. Ook hulle stemme is stilgemaak. Ons moet dit verder voer. Dit weer en weer bely. Want hierdie belydenis moet gehoor word. As ons stilbly, sal die klippe dit uitroep … (Luk 19:40).
Die toets vir die egtheid van ons belydenis is wanneer ons dit teen ander gode en here in moet bely.
Here Jesus, ek bely: So dikwels klop die klippe my. Amen.
Johan Cilliers