“Jy mag naas My geen ander gode hê nie” (Eks 20:3).
“Jou God is die een wat jy as die bron van alles beskou en wat in aIle tye van verdriet en moeilikheid jou enigste toevlug sal wees … Enigiets waarop jou hart staatmaak en waarop dit geheel en al vertrou, dít is in werklikheid jou God.” Met hierdie bekende woorde het Martin Luther bedoel dat enigiets of enigiemand – buiten Christus – waaraan ons ons harte verbind en waarin ons ons vertroue plaas, ’n afgod kan word.
Niemand kan tegelyk twee gode, twee here, dien nie. Daarom waarsku die eerste gebod reeds: “Jy mag naas My geen ander gode hê nie” (Eks 20:3). As die Here van ons lewe wil Christus volle eiendomsreg op ons lewe hê. Maar daar is so baie ander dinge wat ons bewonder en waaraan ons soveel waarde heg dat dit so te sê afgode in ons lewe word.
Daarom moet ons as Christene altyd weer bestek opneem van hoe belangrik ons werk, ons sosiale status, ons liggame, ons sport, ons familie, ons politiek, ons volk, ons vaderlandsliefde in ons lewe word … Balans is hier die hoofsaak; om alles in perspektief te sien, in hulle verband tot Christus, ons Here.
Met die lysie hierbo het ons nog nie eens aan die groot afgode van ons tyd geraak nie. In sy boek Sex, money and power beweer Richard Foster dat dié drie gode van ons tyd deur miljoene wêreldwyd gedien en aanbid word. Ons kan dit skaars ontken. Hoe neig ons harte nie na ander here nie! Hoe dikwels plaas ons nie ons vertroue in seepbelle nie!
Mag God gee dat dié borrels bars. Hoe gouer, hoe beter.
Dit waarop jou hart staatmaak en waarop dit geheel en al vertrou, dít is in werklikheid jou God.
Here Jesus, U is nie ’n seepbel nie, maar die rots onder my voete. Amen.
Johan Cilliers