Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

In die oog van die storm

Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet (Kol 1:13).

’n Sikloon is een van die mees verwoestende natuurverskynsels. Die ontsaglike geweld van dié stormwind is vreesaanjaend. Alles word meegesleur in die geweld daarvan, word ontwortel, ontspyker, aan stukke geruk. Tog sê wetenskaplikes dat as ons presies in die middel van die sikloon sou kon gaan staan – hulle noem dit die oog van die storm – dit vir ons sou voel of daar nie eens ’n blaartjie roer nie! In hierdie ruimte is daar kalmte en vrede.

So is dit ook in ons verhouding met Jesus, ons Here. Die oomblik dat ons die wêreld en die bose magte sonder Hom wil aanpak, wanneer ons buite die ruimte van sy heerskappy inbeweeg, word ons verpletter deur die storm. Uit eie krag is ons soos ’n strooihalmpie in die stormwind.

Tog kan ons in Jesus bly. Ons kan binne die ruimte van sy heerskappy skuil. En dan kan die storm maar rondom ons woed. In Hom het ons kalmte en vrede. In Hom staan selfs strooihalmpies regop. Dis dom om dit buite Hom te waag!

Want God “het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun” (Kol 1:13). In Hom, die Seun, is daar kalmte en vrede. Moet nooit die storm onderskat nie. Maar ook en veral nie die krag van Christus die Here nie …

Uit eie krag is ons soos ’n strooihalm in die stormwind. Maar in Jesus is daar kalmte en vrede.

Jesus wat my liefhet, Heer, laat my veilig by U skuil. Kyk, die waters, wind en weer dreig en ruk en trek my neer! Help my, Heiland … laat my lewe vrede wees (Lied 578:1). Amen.

Johan Cilliers

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.