Boodskap vir Vandag

Search

Goddelike Sensor

Aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef (Ef 1:22).

“As jy voel jou hele lewe is omgekeer,” lui ’n brokkie van Langenhoven se nugter wysheid, “maak net eers seker dit is nie maar net jou maag nie.”

Ook gelowiges voel party dae of die wêreld op sy kop staan. Van die klein dingetjies (wat ’n groot frustrasie kan word): die wekker wat nie afgaan nie, die bus of taxi wat nie opdaag nie, die huilende kinders, die pap wiel … tot die vernietigende oorloë, die ekologiese rampe, die kerngasse in die lug.

Dié dinge is alles ’n werklikheid, maar daar is ’n groter werklikheid: Christus is die Here! “Aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef” (Ef 1:22). Werklik, alles wat op hierdie aarde kan skeefloop (ook weens ons skuld), moet eers deur Christus die Heer gesensor word. Alles moet eers voor sy troon ’n draai gaan maak.

Daarom kan jy in voorspoed dankbaar en in teenspoed geduldig wees. Moenie toelaat dat die storms van die lewe jou omwaai nie. Wat met ons en die wêreld gebeur, is nie toeval nie. Dit is nie die blinde noodlot nie. Dit is nie maar net ’n geval van “geluk” of “ongeluk” nie.

Die Here regeer – al is ons as mense se hele wêreld omgekeer.

Alles wat op hierdie aarde kan skeefloop, moet eers deur Christus “gesensor” word.

Jesus, dankie dat die wêreld nie net om die son draai nie, maar ook om U. Amen.

Johan Cilliers

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.