Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Wie het jou?

“Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Julle kan nie God en Mammon dien nie” (Matt 6:24).

In die 1953-vertaling lui Matteus 6:24 só: “Niemand kan twee here dien nie.” Dit vorm ’n mooi teenstelling met Jesus wat die Here is en die enigste Heer van ons lewe wil wees. Dit werk eenvoudig nie om ’n deel van jou toewyding aan Hom en die res aan ander here te wil gee nie. Die uiteinde van so ’n halfhartige en verdeelde toewyding is gewoonlik ’n algehele boedeloorgawe aan die vreemde en gevaarlike here. Want hulle is nooit met minder as alles tevrede nie. En ons is gewoonlik maar te gewillig.

Walter Luthi, ’n Duitse leraar, vertel van ’n dorpie wat geterroriseer is deur ’n geslepe jakkals wat groot skade in die omgewing aangerig het. ’n Klompie skoolseuns besluit toe om iets aan dié saak te doen en sommer ’n dubbele slag te laan. Hulle sou die jakkals vang – lewend as dit kon – en met hom aan ’n tou deur die hoofstraat van die dorp paradeer. Die dorp se mense sou hulle dankbaar wees en die meisies sou hulle as die onbetwiste helde van die dorp beskou.

Met ’n gelukskoot kom hulle nogal gou op die lêplek van die jakkals af, ’n gat in die grond. Die skraalste outjie onder hulle, omtrent 14 jaar oud, word aangesê om by die gat in te kruip en die jakkals uit te sleep. Vol bravade duik hy in die gat en ná enkele sekondes hoor die ander hom triomfantlik uitroep: “Ek het hom! Ek het hom!”

Toe begin die grond skud en bewe en die stofwolke borrel by die jakkalsgat uit. Toe skree die outjie weer, dié keer doodsbenoud: “Hy het my! Hy het my!”

Dit kan met ons ook gebeur. Want dit is wat die vreemde here met ons doen. Ons dink nog ons het hulle, dan het hulle ons.

Wie het jou? Die here of die Here?

Die uiteinde van ’n halfhartige en verdeelde toewyding aan die Here is gewoonlik ’n algehele boedeloorgawe aan die vreemde here.

Here, red my van die here in my lewe. U is die enigste Here van my lewe. Amen.

Johan Cilliers

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.