Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

God én mens in ’n krip

Hulle het gekniel en aan Hom hulde bewys (Matt 2:11).

Wanneer ons sê ons glo dat Jesus “ontvang is van die Heilige Gees”, beklemtoon dit weer die Godheid van Jesus Christus. Dit bly ’n misterie bo alle misteries. Ons sal dit nooit kan verklaar of ten volle verstaan nie. Dit is bokant enige woorde. Dit dwing ons tot aanbidding. Want wie is dit wat gebore is uit die maagd Maria?

Die-Seun-van-God-in-die-menslike-natuur, het die teoloog Van Ruler gesê.

Menslik gesproke is die gebeure nie “logies” nie. Hoe kan twee sake wat mekaar geheel en al uitsluit – naamlik God en mens – in een Persoon verbind word, en steeds waarlik albei bly? Tog is dit presies wat gebeur het! Karl Barth probeer hierdie geheimenis só uitdruk: “God het gebly wat Hy was, naamlik waarlik God, en toe geword wat Hy nie was nie, naamlik waarlik mens.”

Op so ’n wonder kan ’n mens net reageer met bewondering, lof en aanbidding. Dit het die sterrekykers uit die ooste, heidene wat nie tot die volk Israel behoort het nie, destyds al gesnap. Hulle het die Kindjie saam met Maria gesien en geen vrae gevra nie. Hulle het gekniel en aan Hom hulde bewys (Matt 2:11). Oor die wonder – God én mens in ’n krip – het hulle nie probeer filosofeer nie. Hulle het hulle net verbly.

Ons kan skaars iets anders doen! Ons aanbidding van Jesus kan nooit te gou begin en nooit te lank aanhou nie. Trouens, ’n leeftyd, nee, ’n ewigheid is daarvoor te kort.

God het gebly wat Hy was: waarlik God, en toe geword wat Hy nie was nie: waarlik mens.

Here Jesus, al geskenk wat ek vir U kan bring, is myself. Amen.

Johan Cilliers

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.