In daardie tyd het keiser Augustus ’n bevel uitgevaardig dat ’n volkstelling in die hele ryk gehou moet word (Luk 2:1).
Met die eerste oogopslag lyk die verhaal van Christus se geboorte soos blote geskiedenis. Die geskiedskrywer Lukas doen baie moeite om ons juis op die historiese aard van die gebeure te wys. Hy plaas die verhaal as’t ware binne die hakies van die geskiedenis. Die een ná die ander vloei die name, plekke en tye uit sy pen voort: Augustus, Sirenius, Sirië, Nasaret in Galilea, Judea, Betlehem, stad van Dawid … (Luk 2:1-20). Soos ’n ketting van noodwendighede lees dit, asof daar geen opening na Bo is nie. Asof daar niks bonatuurliks, niks buitengewoons, niks hemels aan die geboorte was nie. Oënskynlik swaai keiser Augustus die septer, het hy die laaste sê.
Maar hy het nie! Wie die Kersverhaal enigsins dieper lees, sien ’n Ander agter die historiese skerms raak.
Agter Augustus se troon is God se troon; agter sy woord, God se Woord; agter die fiskale arbeid van sy staatsamptenare, die plan van God; agter sy volkstelling, die volheid van die tyd. Die Kersverhaal is menslik maar ook bomenslik, histories maar ook bohistories, aards maar ook hemels!
Moontlik voel jy ook van tyd tot tyd dat jou lewe bloot op ’n horisontale vlak verloop. Dat jy vasgeketting is binne die geslote skakels van die geskiedenis. Onthou dan dat Jesus die geskiedenis onherroeplik kom verander het. Hy het bevestig dat God se plan voortgaan. Ook in my en jou lewe.
Wie dieper in die geboorteverhaal inlees, sien ’n Ander raak.
Here Jesus, skakel my ook na Bo. Amen.
Johan Cilliers