“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê” (Joh 3:16).
Waarom is Jesus gebore? Wat is die diepste rede daarvoor? Gister het ons dit in ’n neutedop gestel: Omdat Hy mense liefhet, omdat Hy hulle wil red, sommer net … omdat Hy wou!
Vir ons is sulke nuus oorstelpend. Ons is gewoond daaraan – veral in ons Westerse kultuur – om vir alles wat ons (wil) ontvang ’n teenprestasie te lewer, om daarvoor te werk of om daarvoor te betaal. Alles kos ’n prys. Niks is verniet nie …
Niks? Behalwe God se genadige geskenk aan ons: die vrye gawe van sy Seun om ons van die mag van die sonde te verlos. Ja, dit gaan in die geboorte van Jesus om genade.
’n Paar sosiologie-studente het eenkeer ’n interessante proefneming gedoen. Hulle het op straat na willekeur aan mense R50-note probeer uitdeel. Niemand wou dit neem nie! Selfs toe die studente die geld as’t ware in hulle hande begin stop het, het almal dit dadelik weer teruggegee. Hulle het dié vrye gawe nie vertrou nie … Die een persoon wat wel die geld geneem het, is dadelik bank toe om vas te stel of die noot eg was!
Dít is ons ongemaklikheid met Jesus se geboorte: Omdat genade gratis is, vertrou ons die saak nie so mooi nie. Buitendien gaan dit teen ons trotse grein in om te aanvaar dat ons God se geskenk so bitter nodig het. Dit stuit ons teen die bors dat ons voor Hom bakhand moet staan.
Maar ons kan die geskenk gerus neem. Ons kan die goeie nuus gerus maar glo. Dit is waar! Dit is die evangelie! Dit lui: “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê” (Joh 3:16).
Alles kos ’n prys. Alles is verniet nie. En tog …
Dankie, Here Jesus, dat u genade eg is. En gratis. Amen.
Johan Cilliers