Die Woord het mens geword en onder ons kom woon (Joh 1:14).
God is vir die lewe. Hy ag dit kosbaar en heilig. Hy is immers die Skepper en Gewer daarvan. Hy onderhou dit, dra dit, vertroetel dit en koester dit. Ja, God hou van die klanke van die lewe: mense se stemme, kinders se krete, die blaf van ’n hond, die gekoer van ’n duif, die gesuis van die wind oor grasvlaktes.
God het vreugde aan die lewe. Die ritme van die lewe maak Hom bly: die bloeisels wat bot, die bome wat in die lente hulle nuwe blarebaadjies oor kaal winterskouers aantrek, die wakkerword van die wêreld ná die winterslaap. God het behae in dit alles. Hy het ’n onblusbare Lewenslus!
God sê Ja! vir die lewe. Nêrens hoor ons dit duideliker nie as in sy Woord. Daar hoor ons God se hart klop, in die hartjie van ’n baba – in ’n krip in Betlehem. Hy beaam die sin van die lewe, onderstreep dit, leef dit … want “die Woord het mens geword en onder ons kom woon” (Joh 1:14).
Die geboorte van die Seun van God gee ons moed vir die lewe, vul ons bestaan met betekenis, maak ons vreugde volkome. Selfs al het die sonde alles op aarde op die verskriklikste wyse aangetas. Want God het Hom nie hierdeur laat keer nie. Sy lewenslus brand te sterk.
Juis daarom het die Seun gekom: om Lewe in die oortreffende trap te bring. Jy kan daarom maar opstaan daar op die allerlaagste trap waar jy nou sit. Staan op … en leef.
Die geboorte van Jesus gee ons moed vir die lewe, gee vreugde en sin daaraan.
Here Jesus, as U vir die lewe ja sê, hoe kan ek nee sê? Amen.
Johan Cilliers